Die Burger
20 January 2006
Simfonieseisoen begin uitstekend
Pieter Kooij
SIMFONIEKONSERT: Die Kaapse Filharmoniese Orkes met Owain Arwel Hughes as dirigent en Simone Lamsma as solis. Eergisteraand in die stadsaal, Kaapstad.
VANJAAR se somerseisoen-simfoniekonserte het eergister uitstekend begin met die Brit Owain Arwel Hughes op die podium. Hy is die dirigent van die Royal Philharmonic Orchestra in Londen en is voorverlede jaar tot OBE (Officer of the Order of the British Empire) verhef vir sy bydrae tot musiek in Brittanje.
Dit lyk of die orkeslede goed op Hughes se besliste aanwysings reageer. Hy dirigeer sonder fieterjasies, maar met goeie musikale aanvoeling, en daar is groot afwisseling in klanksterkte en atmosfeer.
Die hoofwerk op die program was Rachmaninoff se Simfonie no. 2 in E mineur. Die uitvoering het ’n uur geduur, maar die kleurrykheid van die vertolking wat gewissel het van fluistersagte innigheid tot amper oorweldigende intensiteit by klimakspunte het my intense aandag deurentyd gehou.
Solo-passasies deur orkeslede is skitterend behartig. Die wonderlike klarinetspel van Maria du Toit in die stadige deel se belangrike solo moet spesiaal gemeld word. Maar dit was die orkes wat as geheel so spesiaal geïmponeer het. Die samespel was voortreflik en die balans tussen die orkesgroepe ewe suksesvol.
Die eerste helfte van die program is begin met ’n briljante en kleurryke weergawe van Dvorák se “Karnaval -ouverture”. Hierna het die 20-jarige Nederlandse violiste Simone Lamsma ’n buitengewone werk gespeel: Max Bruch se Skotse Fantasie op. 46. Hierdie stuk vir solo-viool en ’n orkes met ’n harp bevat verskeie Skotse volksliedere. Dit word selde uitgevoer, maar is pragtig melodieryk en vol variasies van klank, tekstuur en atmosfeer. Die bekende musiekkenner Bernard Shaw het dit selfs bo Bruch se gewilde Vioolconcerto in G mineur gestel.
Die baie talentvolle Lamsma het ’n imponerende vertolking van die Fantasie gelewer. Haar intonasie is uitstekend, en die toonklank wat sy uit haar instrument tower, is ryk, warm en intens. ’n Mens sien uit na haar optrede in die Mozart-herdenkingskonsert aanstaande Donderdag en Vrydag om 20:00 in die stadsaal. Dié konsert word ook op Sondag 29 Januarie om 18:00 in die ouditorium van die Nuwe Apostoliese kerk in Silvertown, Athlone, aangebied.
Twee onverwante nie-musiek-aspekte van die konsert het my opgeval: die program-aantekeninge wat skielik net in Engels is, en die twee kontrabasspelers wat die hele tyd stáán en speel. Wat maak hulle in ’n Wagner-opera wat ure en ure duur?
Back